Saturday, October 25, 2008

Huweliksherdenking, Moyo en liefde.


Die week was wonderlik, en met tye het dit behoorlik gevoel asof ek sweef en my voete nie grond raak nie. Met tye besef 'n mens mos net opnuut hoe baie jy het om voor dankbaar te wees en om voor te leef.

Gert en ek was op 23 Oktober 4 jaar getroud. Shoe, die tyd vlieg. Maar wat 'n wonderlike 4 jaar was dit nie. Dit is dalk net 'n datum en 'n getal, maar in my hart is daar ook 'n stuk opgewondenheid oor dit wat nog voorlê. Met alle eerlikheid kan ek sê dat ek uitsien na dit wat voorlê, en dat ek glo dit gaan nog beter wees as dit verby is. Om sovêr te gevorder het gaan verseker gepaard met 'n klomp genade - genade vir mekaar en ook genade van ons Vader.

4 Jaar later is ek nogsteeds verlief op my man, en kan ek my nogsteeds verkyk aan hom. As vrou is ek so "gebless" want hy behandel my regtig soos 'n prinses. In dit alles kan ek regtig getuig dat die Here goed is vir ons!

Soos die tyd aanstap ontdek 'n mens regtig meer van God se meesterplan rakende die huwelik. Daar is soveel daarin opgesluit. Vreugde, geluk, blydskap, vervulling, liefde, vergifnis, genade - om net 'n paar te noem.

Saam met al die opgewondenheid bederf my man my toe behoorlik, en is ons Donderdagaand Moyo (by Spier) toe vir ons huweliksherdenking. En wat 'n spesiale aand! Ons het soveel pret gehad, en dit regtig baie geniet. Kyk, die liefde bly darem maar mooi en lekker! Ons het die interessantheid van die plek geniet, die musiekies en natuurlik die heerlike kos. Die volgende oggend was ons so moeg gewees - kompleet soos twee gevoel wat op die tafels gedans het. Maar dit was glad nie die geval nie. Dalk die ouderdom?

My kop is nogsteeds in die wolke. Maar eintlik kan dit mos maar altyd so wees. Die lewe gooi genoeg uitdagings ons kant toe, so dit wat goed is kan ons netsowel met oorgawe geniet!

Die liefde is mooi. Die liefde is lekker. God se liefde vir ons is volmaak.


No comments: