Wednesday, February 18, 2009

Uiteindelik!

Ek dreig nou al vir weke (eintlik maande) om weer 'n paar gedagtes hier te laat, maar duidelik nie sover gekom nie. Vanaf my vorige inskrywing het ons intussen 'n heerlike kerstyd beleef, 'n opwindende nuwejaar binnegaan en ook besig gewees met eksamen skryf. En saam met dit het daar soveel gebeur - soms voel dit 'n mens moet net die bus stop en 'n bietjie asem skep. Maar gelukkig weet ek ons leef nie die lewe vir onsself nie, maar vir 'n groter doel, en om God se Koningkryk uit te brei. Om getrou te wees aan Sy Roeping.

Die afgelope tyd het die onderwerp van hoe om dankbaar te leef baie in my gedagtes rondgemaal. En hoe om dit verder te neem as net dink. Ja, ek weet ons almal maak 'n verskil op een of ander area, hetsy dit nou in jou buurman se lewe is, en of dit nou is om iemand wat nie kos het uit te help. Daar is baie sulke voorbeelde. Maar wat ek wonder is doen ons regtig so baie soos wat ons soms dink? Of is dit 'n geval van ons regverdig baie ander dinge oordat ons dink ons doen ons deel. Doen ons regtig genoeg? Doen ek regtig genoeg?

Die gedagte is nie om iemand te laat skuldig voel nie. Ek sal graag net wil hê dat elkeen eerlik met homself moet wees. Soms wil ons by aksies betrokke raak, of stel ons dit uit wat ons al lankal wou doen. Dalk is hierdie net daai hupstootjie in die regte rigting. Want baie keer is dit wat ons uitstel, en soms afstel, iemand anders se antwoord op gebed. Partykeer is dit om 'n R10 in 'n blinde persoon se blikbekertjie by die robot te gooi. Ander kere is dit om iemand se rekening by die betaalpunt te vereffen. En partykeer is dit om iemand te help met hulle huis verf. Baie keer hoor ons daai stemmetjie, maar ons ignoreer hom - want more is mos nog 'n dag. En soms wag ons vir die "teken" in 'n wolk...net oor ons twyfel.

Maar dit sal fantasties wees as ons elke dag reageer op dit wat in ons harte is. Ek weet die nood is groot, en dit voel soms soos 'n onbegonne taak om almal te help - maar ons moet doen wat ons kan doen. Want as elkeen doen wat hy kan doen, gaan ons 'n enorme verskil in die wêreld sien. En ons is nie alleen nie. Ons het mekaar om te help, en Jesus is aan die stuur van sake.

En ek weet dat sy hart verseker by die is wat behoeftig is - dit staan so duidelik in Sy Woord.

Die afgelope tyd was ons as gesin betrokke by 'n heel paar gesinne waar daar op baie areas 'n groot tekort is, maar waar hulle nogsteeds dankbaar leef. Dit sit baie dinge in perspektief, en het ons verseker aangespoor om die moue op te rol en te doen wat ons kan. Daar is verseker uitdagings, en soms raak 'n mens moedeloos as jy nie alles oornag kan verander nie. Maar ek dink dit is 'n leefstyl, en iets wat gaan groei met tyd.

Dit gaan ook nie net oor geld gee nie - daar is dinge soos tyd of net 'n bietjie geselskap. Of net iemand in die oë kyk en hom laat waardevol voel - want in God se oë is hy/sy verseker waardevol. Maar ons as mens is mos maar geneig om iemand se waarde te meet aan sy status.

In my hart glo ek gaan die jaar 'n jaar wees waar ons mekaar gaan aanspoor om aktief betrokke te raak daar waar daar nood is. Dink kreatief, en skakel by God in en hoor waar hy jou kan gebruik. Kyk deur Sy oë na die wêreld, en vra Hom om jou te lei daar waar daar 'n behoefte is.

Saam met al die gedagtes het ek vandag 'n wonderlike dag beleef saam met Norma en haar seuntjie Accolade van Zimbabwe. Die detail is nie hier van belang nie, maar net dat ek iets van God se hart vir ons ervaar het. En dit is lekker!

Ek weet nie heeltemal waarheen al die gedagtes lei nie, maar ek vertrou dat dit die begin is van soveel meer. En dat Jesus dinge in my hart en in julle harte gaan losmaak wat ons stad, en selfs ons wêreld gaan verander.

Sal verseker nog 'n inskrywing moet maak, want daar is nog so baie om te deel.

Maar ons gesels weer.
Karen.

No comments: