Monday, October 20, 2008

Niks spesifiek nie

Ek wou al Vrydag so 'n paar gedagtes deel, maar die laaste deel van die dag het so effens onder my uitgehardloop. Nou is dit Maandag, en ons is weer volstoom aan die gang.

Is egter baie opgewonde oor hierdie week, want Donderdag is Gert en ek al 4 jaar getroud. Dit voel of ons net gister getrou het, maar aan die anderkant voel dit weer asof daar 'n leeftyd se mooi herinneringe tussen ons is. So nog 3 slapies voor ons dit vier!

Die naweek was besonders lekker, en my man het my behoorlik bederf. Ek waardeer hom regtig so baie. As gesinnetjie het ons so lekker tyd saam spandeer, en in dit alles het ek net weereens besef hoe baie die Here ons mee seën. Alberto raak by die dag groter en ouliker, en hy sit verseker elke dag 'n glimlag op ons gesigte. So kruip hy ook elke dag al hoe dieper ons harte in my sy geluidjies, skaterlaggies en groot ogies. En soos Gert altyd sê - ons kan verseker nie net by een stop nie. Dis dan so lekker. En lekker is dit verseker!

En ja, dit is. Om ouers te wees is 'n hele nuwe ervaring, en ons leer so baie. En verseker ook oor ons afhanklikheid van God in dit alles. Die hele besef van wat onvoorwaardelike liefde is, en hoe die Here ons liefhet "ten spyte van" kry vir ons 'n nuwe betekenis. Dis asof ons net meer van God se vaderhart beleef. Wat 'n seën!

So tussen al hierdie opwindende ervarings is ek ook besig om te studeer. Party dae is dit maar moeilik aangesien daar soveel lekkerder dinge is om te doen - maar na 4 Februarie is dit vir eers klaar. Dan gaan ons behoorlik die son, sand en see geniet! Voor dan is daar darem nog 'n paar lekker kuiers wat voorlê soos ons beplande ski naweek, 'n kamp, 'n troue, 'n verjaarsdag of twee, lekker kuier saam met vriende en familie. Mmm, waar gaan ek tyd kry vir swot!?

Vandag sit ek hier met 'n hart wat oorloop van liefde en dankbaarheid.

Sien uit na dit wat voorlê.

No comments: