Wednesday, July 9, 2008

Die liefde bly darem maar mooi

Ek sit nou die dag in die bakkie voor 'n winkelsentrum en wag vir my sussie wat in die bank is toe die volgende voor my afspeel. Iets wat my hart met altwee hande vasgegryp het.

Aangestap kom 'n ouerige oom en tannie, en op hulle gesigte kan jy die paaie sien wat hulle al gestap het. Die oom lyk na die sterker een, en stoot die trollie met die twee sakkies inkopies in. Die tannie klou met amper al haar krag aan sy arm vas. Na elke vyf tree stop sy en haal eers 'n bietjie asem. Jy kan sien sy loop baie moeilik, maar sy byt vas. Geduldig gaan staan die oom langs haar, wag tot sy kans sien vir die volgende vyf tree, en dan stap hulle verder. So vorder hulle tot by hulle karretjie wat langs ons geparkeer staan. Terwyl die oom gaan oopsluit en die sakkies gaan inlaai, gaan staan die tannie teen 'n paal en rus en wag totdat die oom haar by die kar kan inhelp.

As ek deur die dag ry, spring Ben ons Labrador gewoonlik agterop die bakkie, en pak die rit saam aan. Hy geniet die vars lug baie, en gaan staan graag reg vir die wat verbykom om sy kop te vryf. Hy is 'n regte ou liefdesvraat. Terwyl ons so sit en wag maak ek en die tannie oogkontak, en ek kan sien sy beduie iets van die hond. So beduie ek terug dat hy nie sal nie byt nie. Ek dink toe sy is bang om in die kar te klim aangesien Ben met sy kop oor die bak loer. Die oom beduie toe ook vir haar iets van die hond agter op die bakkie, en ek beduie weer hy is vriendelik. So kop hulle aangestap verby hulle karretjie en gaan staan langs die bakkie en die tannie Ben se kop met altwee hande te vryf. En toe kom die trane. Sy is toe eintlik mal oor honde, en die oom weet dit. Spesiaal bring hy haar toe om die hond te vryf, en jy kon sit hoe die liggies daarbinne aangaan.

Sy loop so moeilik, maar die oom het geweet dat dit vir haar iets sal beteken en doen toe die moeite. Saam-saam is hulle weer daar weg, en mooi help hy haar in hulle karretjie. En na al die jare kan jy nog sien hoe hulle liefdesvuur hoog brand. Hoe hulle ten spyte van 'n leeftyd saam nogsteeds mal is oor mekaar. Duidelik doen die oom die inkopies, maak die kos en sien om na dit wat in die huis gedoen moet word. Maar hy doen dit uit liefde vir sy vroutjie. Hy het nie uitgeklim toe dit moeilik raak nie. Jy kan sien hoe hy na haar kyk - met soveel liefde en deernis in sy oë.

En toe besef ek net hoe mooi die liefde eintlik is. Ons koppel dit so maklik aan ouderdom en 'n figuur en alles wat daarmee saamgaan. Maar dit is eintlik so vêr verwyderd van wat liefde eintlik is.

1 Corinthians 13:4-7
Love is patient, love is kind. It does not envy, it does not boast, it is not proud. It is not rude, it is not self-seeking, it is not easily angered, it keeps no record of wrongs. Love does not delight in evil but rejoices with the truth. It always protects, always trusts, always hopes, always perseveres.


Lank na hulle weg is het die gedagtes deur my kop bly maal. In vandag se lewe word liefde so goedkoop gemaak, en goedkoop is dit glad nie. Veral as jy op 80 nog kan handjies vashou en na mekaar kyk met liefde in jou oë. Veral as jy nog verlief is...selfs al het die uiterlike dalk verander.

Maar shoe, die liefde bly darem maar mooi.

No comments: