Wednesday, September 3, 2008

Berge, sneeu en 'n reënboog.


Die afgelope naweek het ons so 'n bietjie op die plaas saam met goeie vriende van ons gaan kuier. In plaas van lekker buite stap en trekker ry, het die wind verwoed gewaai saam met swaar buie reën wat gereeld geval het. En toe natuurlik Sondagoggend se sneeu op die berge. Maar gelukkig was daar 'n lekker kaggel en goeie geselskap om die koue te verdryf.

Sondagoggend het ons so 'n bietjie uitgery McgGregor se kant to om die sneeu op die berge van nader te beskou, en was dit nou nie 'n belewenis nie! Op pad terug huis toe het dit begin sneeu en ons almal het in verwondering gestaan. So tydjie daarna maak die mooiste reënboog sy verskyning en ons word herinner aan sy belofte, Gert en ek raak toe so aan die gesels, en daar kom ons net tot die besef dat maak nie saak wat in jou lewe aangaan nie - die natuur het maar net 'n manier om dinge hierbinne te roer. En allerande interessante emosies te ontlok. Hoe kan 'n mens nie geraak word deur God se skepping nie?

Ja, 'n mens raak soms vasgevang in die baksteenwêreld waarin ons leef - maar sodra 'n mens 'n bietjie buite die gewoel van die stad kom is dit net asof jy 'n rustigheid en 'n vrede ervaar. En weer daai mooi dinge in die natuur raaksien wat ons soms so miskyk.

Maak nie saak wie en wat jy is nie - ons God het verseker 'n manier om elkeen van ons se lewens aan te raak. En 'n lewe wat deur hom aangeraak is kan tog nooit weer dieselfde wees nie?

Vandag is 'n pragtige dag. Die wind waai nie, die see is plat en die lug blou. En dit raak my hart. En om dit alles af te rond lê Alberto vir my en glimlag terwyl ek dit tik.

Mag ons nooit 'n dag laat verbygaan sonder om God se hand daarin te sien nie.

Ons gesels weer,
Karen.

1 comment:

Gertus said...

Dit is inderdaad so, die reenboog het my net weer herrinner aan God se verbond met ons, en waarlik hoe getrou is Hy nie met sy kant van die verbond nie.