Sunday, June 15, 2008

Skoonouers kom kuier & Vadersdag


Ons naweek was heerlik - en die lekkerste is dat hy nog nie amptelik verby is nie.

My skoonouers het vir ons kom kuier, en shoe, ons is alweer so bederf. Ons is veronderstel om hulle 'n bietjie te bederf, maar dan kom hulle hier aan met arms vol geskenkies, eetgoed en liefde. Maar ons kla nie - ons is dankbaar. Hulle het harte van goud!

Soos 'n mens ouer raak en ook kinders kry, waardeer 'n mens jou ouers net soveel meer. Dit is ook asof 'n mens dit wat hulle al die jare vir ons opgeoffer het opnuut raaksien en waardeer.

Natuurlik is Alberto ook 'n groot trekpleister, maar dit is te verstane. Hulle het darem baie jare geduldig gewag vir die kleinkinders om hulle opwagting te maak. En ek kan nogals dink dat dit na al die jare baie lekker moet wees om weer so 'n klein lyfie styf teen jou vas te druk. Daar waar jou en hulle klein hartjies mekaar ontmoet.

Vandag is dit ook Vadersdag - Gert se eerste een. Uit 'n wêreldse oogpunt maar net nog 'n dag waar jy 'n klomp geld spandeer op kaartjies en geskenke wat potensieel nooit gebruik gaan word nie. Maar in my hart is dit 'n voorreg, en 'n baie groot een, om die dag saam met my man te spandeer. En hom ook so 'n bietjie ekstra te bederf. Hy is nou al vir 10 weke lank 'n pa - en as ek sien hoe hy in sy nuwe rol groei sit die trane soms vlak. Hy offer elke dag so baie op om vir ons die beste te gee wat hy kan...en sy liefde is so onvoorwaardelik. Dit is so lekker om te sien hoe hy en Alberto in die bed motorfiets ry, kompleet met die nodige byklanke. Of soms net 'n vinnige perdrit - waarheen sal net hulle tweetjies weet. Maar pa-wees kom vir hom so natuurlik, en dit laat my hart sommer ekstra warm klop.

Op hierdie Vadersdag waardeer ek hom sommer ekstra baie. En ek is seker Alberto ook. Vanaand as ek styf teen hom lê terwyl ons lekker lê en gesels oor 'n 1001 dinge, dan sê ek vir ons Vader dankie vir hierdie wonderlike man en pa!

Die week gaan GREAT wees!

2 comments:

gertus said...

shoe jy klink regtig baie lief vir die man van jou, ek glo dam hy is netso lief vir jou en Alberto:)

Die skim

Karen Cloete said...

Ek weet hy is! Lief jou sommer ekstra baie, my man xxxxx